‘Die een wat bly’: Delf in die geheue van ‘n ma en seun

Deur Marise Schoonraad

Die verhouding tussen ’n ma en seun verander gedurig en ontwikkel oor die verloop van jare. Met albei se soeke na identiteit word nuwe vlakke van kompleksiteit in die verhouding bereik, en dit ontlok baie vrae by sowel die ma as seun.

In die dansdrama Die een wat bly dans ons saam met ’n ma en seun deur die verlede. Die verhaal gee ons ’n blik op die verhouding tussen ma’s en seuns en is rou en eerlik. Deur hul bewegings vertel die karakters ’n storie met hul lywe wat die gehoor wegvoer en meesleur.

Die storie volg die verhaal van ’n enkelma en haar danser-seun. Dit delf in die ma se verlede voordat sy haar seun gehad het en verken hoe sy die weg baan vir sy koms. Later sien ons wie sy as ma was, wat haar seun van haar onthou en hoe dit hom vandag raak.

Hierin word die soeke en sin maak van identiteit verken, asook die verlede en verlies. Die samevoeging van dans en drama skets ’n visuele narratief wat jou deur jou eie verlede sal laat beweeg. Dis ’n intieme wals tussen die karakters om die kompleksiteit van die band tussen ma en seun uit te beeld.

Wessel Pretorius behartig die regie en teks, terwyl Grant van Ster, Shaun Oelf en Daneel van der Walt die ma en seun op die verhoog lewe gee. Van der Walt wys die pyn en die mooi waardeur ’n ma gaan met boeiende monoloë en bewegings. Van Ster en Oelf beeld die seun se soeke na identiteit en verwerking van verlies op ’n natuurlike en eerlike wyse uit.Die een wat bly prikkel en neem jou na ’n plek waar jy al was, maar waarvan jy die seer én mooi onthou. Die kombinasie van dans en dialoog voeg by tot die menslike element, hoe ons dit wat binne en buite ons is gebruik om onsself te verstaan. Jy sal wil saam praat en jy sal wil saam dans.