In 1997 woon Marion Holm haar eerste KKNK as kunstenaar by. Komedie onder vroue is nie net yl gesaai nie, dit bestaan nie. Maar Karen Meiring por haar aan en sy aanvaar die uitdaging. Nerwe en al.
“Ek onthou ek was baie senuweeagtig,” sê Marion. “Ek het op daardie stadium al ’n hele ruk opgehou toneelspeel, plus ek het nog nooit ’n eenvrouvertoning gedoen nie. Ek was báng.”
Haar bydrae tot komedie en ’n eiesoortige stand-up het haar egter deur die jare laat terugkeer na die KKNK, ander feeste en amper elke saal in die land. Keer op keer met nuwe materiaal, ’n nuwe konsep en nuwe stories wat mense laat skater het. Soms lag met ’n traan, maar altyd eg Marion.
Sy was al te sien in meer as 60 teaterproduksies, meer as 20 TV-produksies en is ook die skrywer en regisseur van ’n magdom stukke. Van haar meer onlangse werk sluit in die verhoogproduksie Katvoet en TV-reekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Trompoppie. In 2024 is sy vir twee Silwerskerm-pryse benoem – een as beste aktrise in ’n TV-komedie vir Taktiek en een as beste vroulike byspeler in ’n drama vir Trompoppie.
Die eenvrouvertonings wat sy sedert 2004 doen, het gehore nie net laat terugkom vir meer nie, dit het Marion ook gevestig as een van die land se beste komediante, aktrises en storievertellers.
“Ek is baie dankbaar vir hierdie eerbewys,” sê Marion, wat in Januarie haar 60ste verjaardag vier. “Ek glo regtig nie mens kan akteurs se werk met mekaar vergelyk as hulle totaal verskillende rolle speel nie. Dis soos om ’n skaaptjop, ’n yskas en ’n peer te vergelyk. Maar ek glo in en waardeer erkenning. Daai wat die juffrou vir jou ’n goue ster gee, want jy het jou huiswerk mooi en netjies en noukeurig gedoen. Jy is raakgesien en op die skouer geklop. Ek WAARDEER dit. Mens het aansporing nodig.”
Haar beste KKNK-ondervinding deur die jare “is elke jaar as ek aansoek doen en weer gekeur word. Dit is vir my wonderlik.”
Marion is by die fees in 2025 met haar nuwe eenvrouvertoning Marion Monroe. “En daarna gaan ek by die Spur eet, want ek mag ná Januarie 2025 van die pensioenaris-menu af eet,” spot sy.
Wat is haar drome vir die KKNK? “Dat dit aanhou. Dat dit vernuwe om die toets van die tyd te deurstaan. Dat gehore sowel as kunstenaars die fees sal waardeer.”