Resensie: ‘Laaitie mettie biscuits’ tref hard en laat jou nie los nie

Deur Sebastian Paulus

Soms kom daar ’n toneelstuk oor jou pad wat jou nie net ontroer nie, maar jou laat met ’n blywende, ongemaklike geknaag – ’n drama wat jou dwing om weer en weer te dink oor die wêreld waarin ons leef.

Christo Davids, akteur en regisseur, se jongste werk by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Laaitie mettie biscuits, is presies dit: ’n kragtige, rou en eerlike vertelling wat dieper sny as bloot ’n storie op ’n verhoog.

Die produksie draai om Noah, ’n 16-jarige seun met downsindroom en groot drome om eendag ’n polisieman te word omdat hy sy gemeenskap wil beskerm en geregtigheid laat seëvier. Maar in ’n samelewing waar korrupsie, geweld en swak dienslewering die norm is, word sy droom tragies beëindig. Sy stem, soos dié van soveel ander, word stilgemaak. Hy word doodgeskiet deur die polisie wat veronderstel was om hom te beskerm.

Sy ma se pynlike vrae eggo deur die stuk: Wat het my kind gesê voor hy dood is? Het hy na my geroep? Sy probeer antwoorde vind oor wat presies met haar seun gebeur het.

Wayne van Rooyen (Sersant), Stephanie Baartman (June), Carla Classen (Melanie) en Joshwin Dyson (Noah) gee hierdie verhaal lewe met eerlike, intense spel. Dyson se vertolking van Noah is veral uitmuntend – hy dra die emosionele gewig van die storie met ’n rouheid wat diep sny. Baartman se nuanses bring ’n aangrypende weerloosheid na die verhoog, terwyl Classen en Van Rooyen hulle uitstekend van hul taak kwyt as die polisie.

Davids se teks, gegrond op ware gebeure, is meesterlik: die dialoog is skerp, reguit en deurdrenk van emosie. Hy weet presies hoe om spanning op te bou en dit te meng met oomblikke van humor, net genoeg om die swaar tema te verlig sonder om dit af te water. Sy regie is ewe doeltreffend en elke toneel is gestruktureer vir maksimum impak. Die verhoog word slim benut om die emosionele landskap van die karakters te weerspieël.

Die tegniese aspekte dra by tot die algehele krag van die produksie. Verfynde beligting en klankontwerp skep ’n atmosfeer wat jou intrek in Noah se wêreld en sy ma se wanhoop tasbaar maak.

Laaitie mettie biscuits is nie net ’n toneelstuk nie; dit is ’n wekroep. Dit vra moeilike vrae oor ons samelewing en hoe ons omgaan met die kwesbaarste onder ons. Dit is intens, roerend en onontkombaar. Dis ’n drama wat jy nie net kyk nie, maar ook sal voel.

Foto: Hans van der Veen