Verstaan Helen Keller se storie met ‘Annie+Helen’

Deur Danielle Schaafsma

Annie+Helen is ’n teaterervaring wat jou soos die seegety verder en verder intrek in die diepte van Helen Keller se frustrasie met haarself en die wêreld.

Ná verskeie jare se afwesigheid van die KKNK kon die regisseur Hennie van Greunen nie vir ’n beter terugkeer gevra het as hierdie verwerking van William Gibson se oorspronklike toneelteks nie.

Die aangrypende drama volg die ontwikkeling van ’n jong, blinde en doofstom Helen Keller en haar ontmoeting met die onderwyseres Annie Sullivan – ’n ontmoeting wat hul lewens onherroeplik verander het.

Annie (Cintaine Schutte) het ’n geskiedenis wat bly spook by jou, terwyl Helen (die nuweling Judi Hattingh) vasgevang is in ’n kokon van stilte en donkerte. Hattingh gee haar karakter met soveel diepte en egtheid lewe. In ’n samelewing waar trauma gereeld geïgnoreer word, laat Hattingh se vertolking van Helen se uitdagings en oorwinnings die gehoor met ’n blywende indruk.

Twee buitengewone vroue se ontwikkeling en alledaagse gewaarwordinge word verken deur oorlogsessies in die eetkamer, stoeisessies wanneer Helen oorweldig raak, en Annie se oomblikke waarin sy vasgevang is in haar eie hartseer.

Die produksie fokus nie net op Annie en Helen nie, maar ook op haar gesin. James Keller (Eldon van der Merwe), Helen se halfbroer, leer hoe om sy sussie beter te verstaan.

Onder Van Greunen se bekwame regie is Annie+Helen nie net ’n emosioneel kragtige stuk nie, maar ook ’n visuele meesterwerk. Die stelontwerp deur Rocco Pool dra by tot die produksie se impak, met ’n minimalistiese dog treffende benadering wat Helen se innerlike wêreld na vore bring. Deur subtiele beligting en slim gebruik van ruimte, skep die verhoog ’n atmosferiese agtergrond wat die emosionele reis van die karakters versterk. Dit is ’n teaterervaring wat jou al hoe dieper intrek, en hoewel dit nie so mag klink nie, word jy gewillig ingetrek. Die uitsonderlike vertolkings, regie en ’n doeltreffende visuele benadering maak hierdie stuk ’n uitstaan-produksie op vanjaar se KKNK.

Foto: Jaco Marais