In die regte lewe is Mel die Storieverteller ’n komediant en katliefhebber, maar in ’n ander dimensie – die een binne ons fone – is sy ’n Afrikaanse internet sensasie. In haar derde stand-up-vertoning, Internet Sensasie, verklap Mel uiteindelik wat sy regtig dink van hierdie elektroniese oerwoud vol honger leeus, ywerige flaminke en ontaktvolle (sw)ape. Mel vertel van die tannie langsaan se ongesonde obsessie met TikTok en likes, die een influencer wat haar thrifted broek bo hou met ’n skoenveter en Oom Gert se groot fout op die gemeenskap se Facebook-blad. Soos gewoonlik het Mel se stories ’n klomp draaie – jy dink jy is op pad na die einde, dan swaai sy skerp links en gooi jou met ’n onverwagse staaltjie oor haar man se nuwe slaaptydbykomstigheid. Verwag interessante stories (snaaks), danspassies (nie so snaaks nie) en ’n lied of twee (ag, sy probeer). Daar is plek vir baie lag en ruimte om te dink aan jou eie foonmaniere. “Mel laat jou tuis voel. Jy wil luister wat sy sê. En dan lag jy boonop baie.” – Margit Meyer-Rödenbeck