Dit is met groot trots en opgewondenheid dat ek al die inwoners, besoekers en kunsteliefhebbers welkom heet by die jaarlikse KKNK – ’n viering van ons unieke kulturele rykdom en kreatiwiteit. Die tema vanjaar, “Al die ietse”, herinner ons dat daar in elke klein bietjie iets groter skuil – of dit nou ’n bietjie inspirasie, ’n stukkie hoop, of ’n druppel kreatiwiteit is.
Hier in die Klein Karoo glo ons dat elke klein iets tot iets groots kan lei, en kyk net hoe groot het die KKNK oor die jare geword.
Ek nooi een en elk van julle om “al die ietse” in die klein dinge raak te sien – om nie net die groot en klein skilderye te bewonder nie, om nie net die groot en klein verhoogproduksies te geniet nie, maar ook die diep gesprekke oor koffie of ’n drankie, en om ’n peuseldingetjie te geniet in een van die vele tente.
Soos die tema sê: Kom ons vind waarde in “al die ietse”. Ek nooi elke besoeker om hierdie jaar se fees met oop oë en harte te beleef. Mag jy geïnspireer word deur die skoonheid van die kunste, die gasvryheid van ons mense, en die wonder van ons unieke Klein Karoo.
Laat ons feesvier met dankbaarheid vir die ietse wat ons saambring en die alles wat ons saam skep.
Raadsheer Johan Allers
Uitvoerende burgemeester: Groter Oudtshoorn