Deur Danielle Schaafsma
Almal wat die alombekende C.J. Langenhoven se werke ken, weet seker ook ’n ding of twee oor sy formidabele lewe. Maar Sonde met die spoke is daarop uit om te bewys dat mense nie noodwendig die hele storie, en al die verskillende kante daarvan, ken nie.
Sonde met die spoke verken die verhouding tussen die bekroonde skrywer se vrou, Maria Langenhoven (Tinarie van Wyk Loots), en sy minnares, Sarah Goldblatt (Michele Burgers). Die produksie volg ’n neiging wat bly kop uitsteek oor die afgelope paar jaar – die verwerking van die lewensverhale van beroemde mans uit die oogpunt van die vroue in hul lewens.
Die toneelstuk is die bekende ondersoekende joernalis Marianne Thamm se debuut as dramaskrywer. Sy het ’n paar jaar terug die baadjie van komediant aangetrek en nou is dit dié van dramaturg.
Thamm se agtergrond as joernalis kom deur in haar teks. Met deeglik nagevorste monoloë laat die teks die gehoor met baie nuwe kennis, maar dit loop ook die risiko dat die gehoor die gedagtegang van die karakters sal verloor in die digte teks.
Die toneelstuk speel af in Arbeidsgenot, die historiese woning van Langenhoven in Oudtshoorn. Dit begin met Angelique Jacobs (Veronique Jephtas), ’n sekuriteitswag by die Langenhoven-museum, wat op ’n aand tydens sluitingstyd spookagtige besoekers teëkom: Maria, Sarah, en Sarie Karolus (ook Jephtas), wat 61 jaar vir Maria gewerk het.
Hierdie spoke bevraagteken die gevestigde weergawes van hul rolle en verhoudings met die bekende skrywer, en dwing Angelique (en die gehoor) om die verlede in ’n nuwe lig te beskou.
Thamm se teks ondersoek temas van wat ’n mens onthou, die waarheid, en die dikwels miskende stemme van vroue in die geskiedenis. Deur ’n kombinasie van humor en emosionele diepte word die gehoor uitgenooi om na te dink oor hoe stories oorgedra en gevorm word.
Lee-Ann van Rooi se regie en Carin Bester se stel bring die lewendes en die spoke op ’n boeiende manier bymekaar en skep ’n produksie wat sowel intellektueel as emosioneel aanklank vind.
Die klankbaan het egter nie altyd die vertoning ondersteun nie. Die keuse van musiek het dikwels nie by die atmosfeer van die gebeure in die toneelstuk gepas nie. Daarby het die agtergrondmusiek op sekere oomblikke skielik uitgesny of uit die bloute begin speel, wat steurend was.
Tog is Sonde met die spoke ’n teaterervaring wat ’n kragtige blik op die skadukante van die geskiedenis en die invloed van die verlede op die hede bied. Met ’n sterk rolverdeling en ’n kreatiewe span, beloof dit om ’n insiggewende ervaring te wees.
Foto: Hans van der Veen