Van die begin van haar loopbaan, het Lee-Ann van Rooi nog nooit weggeskram van enigiets nie. Nie uitdagings, grense of haar rol as aktrise en mentor nie. Met verskeie toekennings op haar kerfstok, rus sy nie op haar louere nie. Sy wérk. Haar fokus en dit wat sy doen word altyd aangepak met ’n groter visie om ’n bydrae tot nasiebou in Suid-Afrika te lewer. Sy neem jong spelers en skrywers onder haar vlerk en help om die storieskatkis van die land uit te bou.
Lee-Ann het drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Sy het uitgeblink op die verhoog in produksies soos Bidsprinkaan, Rondomskrik, The Woman Who Fed the Dogs and Kinnes, op TV in reekse soos Sarah se geheim, Skemergrond and Die boekklub en op die silwerdoek in onder meer Frankie & Felipé, Die tragiese geval van Pamiena Vermaak and Noem my Skollie.
Sy sien die KKNK as ’n plek waar sy in kreatiwiteit kan staan. “Ek is dankbaar dat my stem gehoor word en dat mense na my werk kom kyk. 2018 is ’n jaar wat ek altyd sal onthou. Ek was in Kinnes asook Ons is almal freaks hier. Dit was al twee nuwe produksies en om dit te kan doen, was ongelooflik. Dit was ook my debuut as regisseur met die stuk Rokkie en daar was een vertoning by die KKNK waar die krag afgegaan het, maar Charlton George het net aanhou speel. Mense het hulle selfone uitgehaal om lig op die verhoog te gooi en die show het net aangegaan. Ook die afgelope tyd toe ek regisseur was van Die halwe huis deur Ricardo Arendse, ’n boorling van Oudtshoorn, en soveel mense van die dorp die stuk kom kyk het. Ons het dit later teruggeneem Oudtshoorn toe, met die ondersteuning van die KKNK, en dit was volgepak. Mense het kilometers gestap om dit te kom kyk. Dit het net weer aan my bewys hoe belangrik dit is om stories te vertel.”
Sy sê haar droom vir die KKNK is dat dit vir altyd daar sal wees. “Nie net vir ons as kunstenaars nie, maar ook vir al die mense van die dorp en streek want almal het stories en die fees nodig.” Die Kruispunt-toekenning is vir haar ’n bewys dat sy op die regte pad is. “Mens moet altyd die ego uit die pad neem en daar wees om die storie te vertel,” sê sy. “Ek is dankbaar dat dit raakgesien word.”
Sy is in die regisseurstoel van Marianne Thamm se debuutdrama, “Sonde met die spoke”.