Van jazz en pop tot klassiek en kontemporêr met ’n opelug-skouspel of twee – die KKNK bied vanjaar al die musiek-ietse, vir elke smaak.
Die KKNK, geborg deur Absa, word van 1 tot 6 April vir die 29ste keer op Oudtshoorn aangebied, met ’n spesiale openingskonsert en aandmark op Maandag 31 Maart.
Judith Sephuma, Demi Lee Moore, Frank Opperman, Die Heuwels Fantasties, Lynelle Kenned, Timothy Moloi, die Charl du Plessis Trio, Mauritz Lotz en ’n simfonieorkes, onder leiding van Richard Cock, skop die fees af met die Openingskonsert met al die ietse. Uiteenlopende musiekgenres word ingesluit – van rock, pop en alternatief tot jazz, opera en klassieke gunstelinge. Op die program is treffers van internasionale musiekblyspele én gewilde musiek uit eie bodem.
Nataniël sluit Sondag 6 April verrigtinge af met ’n skouspelagtige konsert, Duif. Saam met hom op die verhoog is Tracey-Lee Oliver, Wiehahn Francke, Nicolaas Swart, Dihan Slabbert, Jordan Rogers, Tamia Stanczyk, Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies en Peter Auret.
Verskeie musiekproduksies debuteer in die teaters. Coenie de Villiers en Rocco de Villiers deel vir die eerste keer die verhoog in 88, met ’n repertoire wat strek van boeremusiek tot Bach, van die blues tot ballades. Daar is ou treffers wat spog met vars vertolkings, nuwe komposisies wat spesifiek vir hierdie produksie geskryf is, en splinternuwe woordkuns uit die penne van albei kunstenaars.
Die Charl du Plessis Trio vertolk vir die eerste keer musiek van The Beatles in Bach & Beatles. Ooreenkomste en kontraste in die uiteenlopende style van The Beatles en Johann Sebastian Bach word beklemtoon, in nuwe verwerkings van swing, die blues en bossa nova.
Oudtshoorn se talent is in die kollig vir beHOORNlik, ’n multidissiplinêre tentoonstelling met Haidee Muller, John Theodore, Paul Amas, Danny B, Kezia Swarts, MC Noemwoord, B-Boy Da-vinci, Janine Fourie, Willo & Jenny Maya, Gail Arendse, JESSICA en ander. Verskeie dansers deel die verhoog met musiektalent van Oudtshoorn.
In Blues by die kruispad vertel Christiaan Rabie, Nelmarie Rabie, Marcel Dednam, Deryn Dednam, Werner Spies en Peter Auret die legendariese verhaal van Robert Johnson by die Crossroads. Hulle neem die gehoor op ’n onvergeetlike reis, met ’n verhaal van passie, opoffering en tydlose emosies, alles wat die blues so universeel maak.
Corneille Hutten en Christiaan Jacobsz, oftewel CH2, bring ’n interessante mengelmoes van die flamenco van Spanje, die moederland van die kitaar, met ’n klein bietjie Franse invloed, waar die Spaanse musiek grens aan Frankryk in die klein dorpie La Bolle. CH2 gooi ’n tikseltjie Italiaans en natuurlik ’n bietjie Afrikaans ook by vir CH2: Olé to Bollé.
Danie Reënwolf du Toit en sy pa, Johan du Toit is te sien in ’n splinternuwe vertoning, Songs, stories en gedigte. Johan lees uit sy eerste digbundel en dit stel dit bekend, terwyl Danie nuwe musiek sing in hierdie seldsame geleentheid om die pa en seun saam op een verhoog te sien.
Die gevlerktes bring twee gesoute kunstenaars bymekaar vir ’n buitengewone produksie wat ’n lewende uitvoering en animasierolprentkuns kombineer. Diek Grobler het vier nuwe kortflieks in reaksie op werke vir solo-klavier geïnspireer deur voëls. Vier klavierwerke word deur Mareli Stolp uitgevoer.
Blackie Swart, Thean Kotze, Leon Ecroignard, Wouter van de Venter, Mathys Roets en Mel Botes is saam terug op die verhoog vir Die Ses Snare van ouds. Dié groep speel ná baie jare weer by die KKNK – hierdie keer met die oorspronklike groep wat destyds in 2009 vir die eerste keer by die KKNK opgetree het. Geniet ’n nostalgiese reis saam met die Snare wat al die ou treffers speel waarvoor hulle bekend geword het.
Goue Boere, silwer tango is ’n boeiende musiekervaring wat die verrassende verbintenisse tussen boeremusiek en die Argentynse tango ondersoek. Met Nicole Holm, Leon Oosthuizen, Alberto Otero, Silvia Otero en Skhumbuzo Mhlauli, wat die klanke van Afrikaanse volksmusiek vervleg met die passievolle melodieë van Argentynse tango, in ’n unieke kulturele samewerking.
Leslie Kleinsmith, ’n gevestigde en geliefde kabaret- en jazzkunstenaar van Distrik Ses in Kaapstad, het deur die jare sy vaardigheid in verskeie musiekstyle, waaronder populêre musiek, R&B en big band swing, bewys. Hy deel in Kaapse Kabaret 2.0 die verhoog met Ramon Alexander, Dylan Tabisher en Annemie Nel.
Elzabé Zietsman het Johann Slabbert gevra om ’n kabaret te skryf waarmee sy kan hulde bring aan David Kramer se liedjies. Nadat Kramer die storie vir Katrien, die King en die Kween gelees het, het hy voorgestel dat hierdie storie en sy karakters ’n “mini-musiekblyspel” word waarvoor hy die musiek sal skryf. Zietsman deel die verhoog met André Schwartz en Tony Bentel, onder regie van André Odendaal.
Twee van Suid-Afrika se voorste en hoog aangeskrewe instrumentale groepe, die Soweto String Quartet en ULTRACOUSTIC span kragte en kreatiwiteit saam vir Klassiek en kwêla tot tango en techno. Dis ’n energieke konsert vol verwerkings en oorspronklike musiek met verskeie genres wat gehoor word.
Wynand Strydom bring in Koos Doep hulde aan wyle Koos du Plessis, soos hy in die volksmond bekend staan, wat in 2025 sy 80ste verjaarsdag sou gevier het. Chanie Jonker sluit op die klavier by hom aan.
Bekroonde en benoemde musiekproduksies van ander feeste en teaters is ook op pad na die Klein Karoo. Amanda Strydom se The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder is bekroon met die Woordtrofee vir beste prestasie: kontemporêre musiek – solo/duo by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2024. Sy word vergesel deur Coenraad Rall op klavier.
Vincent: His Quest to Love and Be Loved met Daniel Anderson en Paul Ferreira is in 2024 bekroon met die Naledi-prys vir beste deurbraak, beste kabaret/revue/kleinskaalse musiekproduksie en beste hoofrol in ’n musiekteaterproduksie.
Frieda van den Heever se Spoorsny is benoem vir ’n kykNET Fiësta vir beste kontemporêre musiekproduksie, asook ’n Woordtrofee vir beste sologedrewe kontemporêre musiekproduksie by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2024. Mauritz Lotz is saam met haar op die verhoog.
-LOOS met Joanie Combrink en Laurinda Hofmeyr is benoem vir die kykNET Fiësta vir beste musiekgedrewe teater.
Ander musiek-ietse in die teaters sluit in: Merry Krismis, Elvis met André Schwartz, De wals van de liefde met Jannie du Toit, Marcel Dednam en Deryn Dednam, Drie van die bestes met Mathys Roets, Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys, Gé sing: Hoor my lied! met Schwartz, Arina de Witt, Louis Loock en Stephanie Baartman, Jak de Priester en Antoinette Pienaar in Koppieteefontein and Soet water uit die donker put met Koos van der Merwe, Ivan Zimmermann en Anjulie Nock.
Verskeie gunstelingsangers is daagliks te sien op die Feesmark- en Castle Lager-verhoog in die Feesmark, die KKNK se feesterrein met vermaak vir die hele gesin. Sien uit na onder andere Die Heuwels Fantasties, Emo Adams & Take Note, Demi Lee Moore, Snotkop, Blackbyrd, Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren, Refentse en kunstenaars soos Booshle G. en Irene-Louise van Wyk wat vir die eerste keer by die KKNK te sien is.
KKNK 2025 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.