Vereerdes

John Theodore – Diens aan die kunste

John Theodore is ’n Oudtshoorniet in murg en been. Sy eerste musiekles was by die Holy Cross Convent op Oudtshoorn en nou, dekades later, kan hy terugkyk op ’n luisterryke loopbaan as pianis, leermeester en mentor.

John Theodore is ’n Oudtshoorniet in murg en been. Sy eerste musiekles was by die Holy Cross Convent op Oudtshoorn en nou, dekades later, kan hy terugkyk op ’n luisterryke loopbaan as pianis, leermeester en mentor.

John het ná matriek in 1973 musiek aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Dit was in ’n tyd waarin hy  weens apartheid spesiale vergunning moes kry om by dié universiteit te studeer, maar dit het hom nie gekeer om ’n meestersgraad te behaal nie.

Hy was die ontvanger van verskeie pryse, het in sy loopbaan op verskeie beoordelaarspanele gedien en was ook ’n eksaminator by Unisa. Jong talent het groot hoogtes onder sy leiding bereik.

“My pa het in langarmmusiek-orkeste gespeel, maar het nooit formele musiekopleiding gehad nie,” vertel John. “Ek en my drie broers was almal musikaal. Dit was ook saam met my broer Clive wat ek in 2003 my eerste KKNK as feesganger bygewoon het. In 2004 is ek gevra om plaaslike sangers vir die opvoering van Die Messias: Die Jirre se Seun te kry. Deur die jare het ek die fees sien groter en groter word en ons kon dit op die strate voel. Met die koms van Klein Karoo Klassique, wat in 2025 vir die 16de keer gehou word, het die fees ’n werklike tuiste vir klassieke musiek gekry. Dis goed om te sien hoe kreatiewe skeppings groei.”

John sê hy is van nature nie gemaklik met die kollig op hom nie, maar is tog dankbaar vir ’n eerbewys soos dié van die KKNK. “Ek het nog altyd alles met eerlikheid, opregtheid en lojaliteit gedoen sonder om erkenning en eer te verwag. Ek hoop hierdie eerbewys sal as aansporing vir veral my gemeenskap dien.”

Wat sien hy as sy grootste bydrae tot die kunste?

“Dat ek ’n baanbreker was en ook ’n rolmodel. Ek het myself nooit as ’n rolmodel gesien nie, maar toe het iemand my daarop gewys dat prof. Franklin Larey, die Suid-Afrikaanse pianis wat in die buiteland klas gee, my as ’n rolmodel sien. Ek is ook ’n geleentheidskepper. Van my tyd in die onderwys tot hoe ek by die KKNK kon help om leerlinge en kore te laat optree.”

En sy droom vir die KKNK?

“Dat dit volhoubaar sal bly, dat deelname uit die buiteland sal groei en dat die gemeenskap daarby sal baat.”