KKNK skep werk en vier diversiteit

Ons het in vele opsigte as ’n nuwe land uit 2024 se algemene verkiesing getree. ’n Nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) is uit die stembus gebore en daarmee saam het ’n hernude gevoel van hoop en optimisme gekom.

Ons het in vele opsigte as ’n nuwe land uit 2024 se algemene verkiesing getree. ’n Nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) is uit die stembus gebore en daarmee saam het ’n hernude gevoel van hoop en optimisme gekom.

Ons is natuurlik vertroud met koalisiepolitiek. In 1994 het ons ’n RNE gebruik om ons weg na ’n demokrasie te baan. Wat hierdie RNE onderskei van die een wat ons deur die vroeë jare van demokrasie gelei het, is ’n nuwe waardering vir ons diversiteit, sowel as ’n dwingende behoefte om die uitdagings waarmee ons in die 21ste eeu te kampe het op ’n doeltreffende manier te takel.

Al hierdie veranderinge voel soms oorweldigend. Ons moet aanvaar dat ons moet aanpas, saamwerk en harder as ooit vantevore moet werk om ons ekonomie te laat groei sodat nog vele werksgeleenthede geskep word. Dit is om dié rede dat ons as die Wes-Kaapse regering die KKNK waardeer: Nie net vir die fees se bydrae tot die kunste nie, maar ook vir alles wat die KKNK vir die ekonomie van die provinsie doen.

Die RNE weerspieël die dinamika van ’n nasie van inwoners wat hul kultuur koester en verandering tot voordeel van Suid-Afrika wil sien. En net soos ons hierdie RNE inspan om Suid-Afrika na nuwe hoogtes te neem, en terwyl ons vertroud raak met hierdie veranderde politieke landskap, kan ons steeds toevlug vind in ons diversiteit en erfenis, wat ’n stem gee aan nasionale geleenthede soos die KKNK – ’n geliefde gebeurtenis in ons provinsie en deel van die land se kulturele samestelling.

Aan die organiseerders van die KKNK, ek wens julle alles van die beste toe vir die 2025-weergawe van hierdie kulturele en kunste-extravaganza. Aan die kunstenaars, skrywers en opvoerders, baie dankie vir alles wat julle doen om die land se gedeelde kultuur te laat floreer en lewendig te hou.

Alan Winde
Premier: Wes-Kaapse regering