Die Kaapse kunstenaar Kilmany-Jo Liversage het ’n monumentale, uitdrukkingsvolle kunswerk op twee skeepsvraghouers geskep. Hierdie werk is tydelik te sien voor die C.P. Nel-museum, op die hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat, en word ’n ontmoetingspunt wat hierdie belangrike kruising in die dorp visueel aksentueer. Liversage is wêreldwyd bekend en het onder meer al muurskilderye geskep in Australië, Colombia, Suid-Afrika, die VSA en die Verenigde Koninkryk.
Die kleurvolle portret van ’n vrouefiguur aan die buitekant van hierdie houers, maak ’n sterk visuele impak. Binne-in die houers kan feesgangers ’n beperkte oplaag digitale drukwerke van verskeie bekende Suid-Afrikaanse graffiti-kunstenaars teen ’n sakpasprys koop.
Wees op die uitkyk vir Bloom & Bliss: Karoo Edition, ’n Brutal.-drukwerkinisiatief.
’n Nuwe drukwerk van Liversage word ook te koop aangebied.