Die Feesmark se inkopieparadys swaai sy deure oop vir ’n voorsmaak en eerste blik op wat hier op feesgangers wag. Dié aandmark is oop op 31 Maart vanaf 17:00. Kry die hele familie se eet- en drinkgoed voor die Openingskonsert om 19:00 hier en vier saam met ons die opening van die 29ste KKNK met al die musiekietse in een mandjie.
Skop die 2025-KKNK af met ’n openingskonsert wat beloof om al die ietse aan feesliefhebbers te bied. Befaamde maestro Richard Cock het ’n baie opwindende program en ’n 29-stuk-simfonieorkes saamgestel vir dié spesiale viering. Uiteenlopende musiekgenres word ingesluit – van rock, pop en alternatief tot jazz, opera en klassieke gunstelinge. Op die program is treffers van internasionale musiekblyspele én gewilde musiek uit eie bodem. Die immergewilde Frank Opperman is die gasheer van die aand, en as jy gewonder het – ja, hy kan en gaan ook sing.
Al hierdie vermaak is ingesluit by jou Feesmark-kaartjie, moet dit nie misloop nie.