Die een wat bly is deels droom en deels getuienis. Dit gebruik die geselskap se persoonlike herinneringe as vertrekpunt om die verhouding tussen ma’s en seuns te skets. Dit is ’n samevoeging van dans en drama wat wentel om die narratief van ’n kunstenaar wat terugreis na sy kinderjare. ’n Danser staan sy moeder aan die dood af en wandel deur die flitse van sy geheue, asook die verbeelde geheime lewe van sy ma, om tot verhaal te kom oor sy verlede, sy identiteit, sy familie en sy toekoms. Dans en fisieke teater word ondersteun deur teks om verlies en die spesiale en verwikkelde verhouding tussen ma’s en hul seuns bloot te lê op die pad na genesing.