’n Stofkorrel van die kurator
Vanjaar se visuele kunste-aanbieding beskik oor iets van die teatrale en is ’n multisensoriese ervaring. Die titel is ontleen aan Reza de Wet se toneelstuk met dieselfde naam, wat groot opskudding veroorsaak het in die tagtigerjare.
De Wet se Diepe grond is egter slegs ’n intertekstuele verwysing. Dit is nie die mikpunt om die narratief en verloop van die toneelstuk te illustreer nie, maar eerder om aspekte binne die teks, soos die wisselwerking tussen die feitlike en die intuïtiewe, die verwikkeldheid van interpersoonlike verhoudings binne die Suid-Afrikaanse landskap en die verband tussen die alledaagse en die buitengewone te betrek. Daar is visuele gesprekke rondom veral die ekologiese, maar ook die sosiopolitieke landskap en ’n bevraagtekening van die grensdrade waarmee ons ons dikwels van die natuur en ander skei. Hierdie elemente word die wegwysers vir vanjaar se visuele kunsprogram.
Die uitstalling is Karoo-gerig (terwyl De Wet se stuk in die Vrystaat afspeel). Die uitleg van die uitstalling eggo die fisieke landskap rondom Oudtshoorn: die pad vanaf Calitzdorp, die angorabokke van Prins Albert, kleur en teksture in die veld van die Klein Karoo, merkwaardige oomblikke uit die Groot Karoo. Dit impliseer nie dat die uitstalling ’n kaart is, of dat dit streekspesifiek is nie, maar eerder dat die Karoolandskap die hoofkarakter is waarom die visuele gesprek draai.
Oudtshoorn is ’n plek met ’n besonders wye hemelruim, omring deur bergreekse waarin watervalle, meerminne en luiperds skuil. Dis ’n prehistoriese landskap van grootse natuurwonders, rare piepklein plantjies, mondelinge oorvertellings, alledaagse teleurstellings, skitterende spookstories en sporadiese wonderwerke …
“Grond” of “aarde” is een van die vier elemente van die natuur, maar dit is ook “grond” waarin ons geanker is op hierdie klein, blou planeet in ’n onpeilbare diep heelal.
Vanjaar is daar ’n verskuiwing in hoe die visuele bydrae aangebied word: Diepe grond is een groot groepuitstalling en uiteenlopende media wissel mekaar af. Alhoewel daar verskillende “streke” binne die uitstalling is, word werke nie afgeskort in verkillende kampe nie. Dit is ’n viering van die individuele kunstenaars se kreatiewe prosesse en persoonlike insigte, maar ook ’n bewusmaking van hoe al die dele saamkom binne ’n groter geheel.
Kunswerke loop oor vanaf die Prince Vintcent-gebou, na Baron van Reedestraat en knoop dan sommer ook ’n gesprek aan met die teksture en kleure van die veld net duskant die dorp. Deelnemende kunstenaars kom van oor Suid-Afrika heen en die program sluit ook verskeie uitmuntende gemeenskapsprojekte uit verskillende dele van die Karoo in. Ons stel ook ’n kunstenaarsverblyf bekend met ’n opkomende kunstenaar uit Frankryk wat deelneem.
Die toeskouer kom op ’n ontdekkingsreis deur hierdie landskap, met talle voetpaadjies wat afdraai na nuwe bestemmings en oorgenoeg tyd vir selfbesinning. Dit word ’n ruimtelike ervaring. Kom slenter saam deur die Karoo en hierdie binneruimte van die verbeelding!