Die uitstalling is ontwikkel in vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat en is saamgestel deur Miné Kleynhans, in samewerking met Modern Art Projects South Africa (MAPSA)
Werke is geïnspireer deur die Groot Karoo en geskep deur kunstenaars van oor Suid-Afrika heen en sluit ook internasionale bydraes in.
LANDscape[s] is ’n keur van kunswerke uit die MAPSA-versameling vir kontemporêre kuns in Richmond, Noord-Kaap, in die Karoo. Die werk wat gekies is, is ’n bepeinsing van kreatiewe gedagtes rondom die landskap.
Die uitstalling verbeel en eggo die verbygaande beelde wat hierdie ruimte ontlok: ’n Mymering rondom tydsverloop, opgrawings van ons verlede, die betekenis en gevolge van ons handelinge en ons hedendaagse artefakte wat in die nabye toekoms vir ons toekomstige self soos argaïese oorblyfsels uit ’n vervloë era gaan lyk.
Simon Schama skryf: “ ’n Landskap is ’n konstruk van herinneringe, dit is ’n skepping van die bewussyn, wat net soveel opgebou word uit lae herinneringe as uit lae rots.” *
MAPSA is in 2005 deur Harrie Siertsema en Abrie Fourie gestig.
* Simon Schama, Landscape and Memory (New York: AA Knopf, 1995), p. 7.