Gratis

Gesin • 540 min.

St. Jude’s Anglikaanse Kerk en Prince Vintcent-gebou

Datum(s)

1 April 2025, 09:00

2 April 2025, 09:00

3 April 2025, 09:00

4 April 2025, 09:00

5 April 2025, 09:00

6 April 2025, 09:00

Die stomme aarde

MET Henk Serfontein: Feeskunstenaar

Die stomme aarde bestaan uit ’n reeks omgewingsgerigte houtskooltekeninge, waarin Henk Serfontein in mikroskopiese detail te werk gaan en aansluit by die groen-gesprek.

’n Reeks monumentale tekeninge van ontwortelde plante wat die grysbekkie, volstruisnek en sterretjieboom insluit, verbreek hul stiltes uit die primordiale, soos voorvaders met grondmonde. Die plantportrette in hul grootsheid en skoonheid is nie net wetenskaplik beskrywend nie, maar tree ook in gesprek met die ekologies-gesinde poësie van Wilma Stockenström. Die kunswerke poog om, soortgelyk aan die poësie van Stockenström, ’n ontvanklikheid te toon vir die optekening van die kodes van Die stomme aarde. In die kunswerke is daar ’n gevoeligheid vir die boodskappe verskuil in plant, klip en grond.

In die tweede reeks tekeninge, met die titel Klipspraak, word versreëls uit die klipgedigte van Stockenström geprojekteer op klip afkomstig uit Kruidfontein. Die klipbeelde kan gelees word as grafskrifte, wat ’n sekere droefheid oor die stand van die natuur in die konteks van die klimaatkrisis oordra. Die stomme aarde verbreek verbeeldingryk die stilte, so asof klippe kon praat. Klippe word hierin die tolke wat die gees van die grond aan die ontvanklikes kommunikeer.

Serfontein neem met hierdie uitstalling die kyker soos ’n spoorsnyer deur die veld om deur middel van noukeurige waarneming die mens se verbondenheid en nabyheid aan die aarde te ondersoek. Die kyker word uiteindelik ook genooi om terug te tree soos ’n sterrekyker: Om bewus te word van die mistieke opgesluit in die heelal, en om deur die lens van poësie na die geheimenis van ons gedeelde verganklikheid te kyk.

Serfontein se bydraes bestaan uit drie dele:

1. ’n Uitstalling van houtskooltekeninge in die St. Jude’s Anglikaanse Kerksaal;

2. ’n Uitvoerende kunservaring waarin die kyker kan toekyk hoe getekende bewegings ontvou met danser Hannah Loewenthal; en

3. Monumentale tekeninge saam met kinders van die Wes-Kaap.

Wilma Stockenström se Met my wysvingertop word op 6 April 10:30 by die ATKV-Boeke-oase by Exclusive Books bekend gestel. Bywoning is gratis.

Lus vir iets anders?

Friends & I

’n Uitstalling van ons reis na behoort, deur kleur. Ons is ’n groep vriende van...

Attakwaland

Die Prince Vintcent-gebou huisves weereens die grootste gedeelte van die visuele kunsuitstallings. Soos die Klein...

Visuele kuns: Soek en vind die skatte tussen kunswerke

Hierdie interaktiewe skattejag vir kinders onder 12 jaar bied aan die jongspan ’n geleentheid om...

Ontmoet die feeskunstenaar, Henk Serfontein

Liza Grobler, die KKNK se nuwe kurator van visuele kuns, tree daagliks om 11:00 in...

AF