Lien Botha is welbekend vir haar subtiele fotografiese werk wat dikwels die omliggende landskap betrek. Sy het al wêreldwyd aan uitstallings deelgeneem en is ook ’n voormalige feeskunstenaar van die KKNK.
Botha skep ’n reklamebord op die muur van die polisiekantoor tussen die Route 62-restaurant en die ingang na die polisiekantoor in Baron van Reedestraat. Met hierdie saamgestelde beeld van ’n Karoo-landskap (met ’n verwysing na die werk van die kunstenaar Albrecht Dürer) word die natuurlike landskap en plantegroei as ’t ware na die middedorp gebring. Dit skep ’n visuele skakel tussen die Liversage-werk voor die C.P. Nel-museum en die kunswerke in die Prince Vintcent-gebou. Die werk sal vir 12 maande hier te sien wees. Dit is “buitelugkuns” vir die hoofstraat en ’n kunsgeskenk aan die dorp.
“Die werktitel vir die reeks was aanvanklik (de)constructions for Alkebulan, na bewering die oudste naam vir die Afrikavasteland. Voorts het van my eerste werke uit foto-samestellings bestaan (Africana Collectanea, 1994), ’n medium wat nie goed gedokumenteer is in die konteks van Suid-Afrikaanse fotografie nie. Nou, bykans drie dekades later, keer ek terug na hierdie metode van fotografiese verkenning, hoofsaaklik weens die manier waarop die landskap verander is.”