Liewe maats, daar is iets wat gaan gebeur. Iets feestelik. Iets met die naam die Klein KKNK-teater. ’n Teatertent in die Feesmark, naby die stalletjies en tjips. Jy wil dit vir niks misloop nie. Almal is welkom, oud en baie jonk. Met een feeskaartjie kan jy ’n hele dag lank jou skoene hier uitskop. Hier by die Klein KKNK-teater. Vra maar die maats wat verlede jaar hier was, jy sal weer en weer wil kom. Drie verskillende teaterstories op ’n dag.
Ontmoet die Grommels, dans in die Middel en kyk of Jan Jakkals sy neus terugkry. Miskien het jy ook al soos Pampoenpit goor gevoel? Miskien wil jy saam met Squish en Splat, Ka-BOOM! As jy lief is vir jou familie, sal Mina Thina jou hart goed laat voel, of sal jy lief word vir Storge met of sonder ’n ster-plakker? Hier is iets vir almal. Hier by die Klein KKNK-teater. Kom betyds, want jy wíl heel voor sit. Vra ’n grootmens om saam met jou te kom, en kyk wie geniet dit die meeste.
Toegang tot die Feesmark is gratis vir kinders onder 7 met ouerbegeleiding en kos R50 per dag vir kinders tussen 7 en 13 jaar oud. Buite die Feesmark kan jy ook vir Liewe Heksie en The King of Broken Things in ander teaters gaan kuier.
Die Feesmark bied ook ’n pretpark soos wat ’n mens net by feeste kry! Ure se musiekvermaak wag op die Feesmark se musiekverhoë, lekkers en ander lekkernye is te kies en keur by die honderde stalletjies. Familievermaak word ook elders in teaters aangebied met produksies soos Liewe Heksie en die wals en The King of Broken Things.